WAT VRA DIE MOOTPROJEK VAN JOU

Hou die stukkie straat voor jou huis en/of besigheid skoon. Wees trots op jou sypaadjie!

Help met die MootProjek se maandelikse skropsessies (eenmalige intensiewe skoonmaakaksies in ‘n geïdentifiseerde probleemarea).

As jy iets vervalle in jou omgewing sien (byvoorbeeld ‘n bushalte, verkeerslig se paal, vuil sypaadjie ens.), en dis binne jou vermoë, maak dit asb skoon en herstel dit binne die bestaande munisipale kleurpalet en soos dit voorheen was.

Verwyder ongewenste plakkers en plakkate sodra dit opgaan. Let daarop dat eiendomsagente se plakkate van 12:00 Vrydagmiddag tot 12:00 op Maandag wettig vertoon mag word. Daarna kan u dit verwyder, want dit is onwettig en strafbaar met ‘n boete van tot R10000. 

Wees positief en maak ‘n verskil.

Motiveer ander rondom jou en wees vir hulle ‘n voorbeeld.

Moenie net kla nie, maar wees deel van die oplossing, gaan oor tot aksie en maak ‘n verskil.

Soos voorheen reeds vermeld is, word ons benadering teoreties gefundeer deur die Broken Window Theory wat met groot sukses in New York in die VSA toegepas is. In kort kom dit daarop neer dat as die klein goedjies eers reggemaak is en instandgehou word, volg die groot verbeteringe met tyd outomaties. Die teorie veronderstel ook dat netjiese areas ‘n aanduiding gee dat die inwoners van die gebied omgee en bedag is op wat rondom hulle aangaan en dit lei weer tot verlaagde misdaadvlakke.